Krabbel

hier krabbel ek sommer gedagtes, drome en dinge

mense December 14, 2009

Filed under: Brokkies — Nicole @ 7:43 pm
Tags: ,

Miskien is dit beter as ek nie nou skryf nie. Maar tog wil ek.

Dit laat my net dink aan wie lees hierdie goed rêrig? aaaag, maar dis lekker om mens self daar buite te stel.

Ek en eek van my vriende het onlangs The Four Loves van C.S. Lewis saam gelees. Dit is ons poging om liefde beter te probeer verstaan. Vanmiddag het ons met die laaste hoofstuk agesluit. Ons konklusie? 🙂 nee, ons het niks oor die liefde geleer nie… ok nou nie NIKS nie. Maar verseker nie dit was óns wil hoor nie. Maar dit is ‘n gesprek vir later.

Die boek het my baie laat dink oor verhoudings. Want dit dek alle liefde.

Nou ek is ‘n persoon wat baie waarde heg aan vriendskappe. Ek neem dit nie ligtelik op nie, en as ek jou eers as my vriend/in beskou is jy daar vir goed.

Maar in hierdie jaar het ek nogals baie teleurstellings in mense ervaar. Mense wat ék gedink het mens vriende kan noem. Maar vir een of ander rede het die verhoudings net dood geloop. Net omdat ek werk gekry het in ‘n ander dorp. Dink ek. Of miskien is dit omdat ek nou niks het om te offer nie. Op die stadium is ek nie goed genoeg nie. Dit gaan baie goed met hulle, daarom het hulle my nie nodig nie.  Is dit nie hartseer nie?

Ek is dalk in ‘n kleiner plekkie, met minder “up-to-date” flieks,  boeke en teologie. Maar ek doen my bes om by te bly.

Maar een ding wat ek weet ek het, is mense hier om my wat vir my verskriklik lief is, mense wat in my glo, mense wat sovel vertroue in my het, dat hulle my in alles wat ek doen sal ondersteun. Selfs al het ek nog nie ‘n man nie, hulle sien my nie as ‘n halwe persoon nie, en skryf my ook nie af omdat ek nie nou couple dating saam emt hulle kan doen nie. Hulle vat my soos my is, challenge my op hulle manier, lag saam met my, en waardeer dit wat ek het om hulle te offer. Iets wat vriendskappe, (as dit ooit rerig vriendskappe was) van ses of agt jaar nie vir my bied nie.

Hierdie vriendskappe was op ‘n tyd my alles gewees, maar iets kan nie net van eenkant af groei nie. Miskien het ek nie hard genoeg probeer nie? Nee, ek het. EK het getrou e-posse gestuur, probeer kontak hou. My hart probeer deel, my ervaring hierso. Maar geen belangstelling nie. Sommiges het nie eers die ordentlikheid om ENIGE iets te antwoord nie.

En as ek ‘n oproep uit die bloute kry en my hart bokspring van opgewondenheid, dan was dit eintlik net omdat ek gou moes help met iets.

Verstaan die mense nie meer die waardes van vriendskappe nie?

En fine, as ek nie goed genoeg was vir vriendskap nie, wat van netwerk? Iets wat ek so baie van gehoor het voordat ‘n klomp mense uitmekaar gespat het? Beteken netwerk dat jy AL die kursusse moet bywoon wat hulle doen, Al die boeke lees wat hulle lees en al die blogs volg wat hulle volg? Op kan netwerk ook soms beteken dat ek daar is vir jou. Dat jy op my kan staatmaak. Ek is dalk 100km ver, maar ek is hier. Al kan ek net vir jou bid as dit swaar gaan.

My hart is baie seer oor verhoudings wat in die laaste jaar verbrokkel het. Oor mense wat jy gedink het vir jou omgee nie, nie eers jou verjaarsdag onthou nie…

Maar ek bid vir hulle. My gebed is dat hulle die mense met wie hulle in hulle bediening te doen gaan kry met meer respek sal hanteer. Dat hulle meer eg sal wees in hierdie verhoudings en dat hulle erens langs die pad sal leer wat dit beteken om ‘n ware vriend/kolega vir iemand te wees. En die wat nie in die bediening is nie, vir hulle bid ek dieselfde, dat hulle die mense wat oor hulle pad kom beter sal hanteer as iemand wat gedink het hulle is vriende.

Is ek dalk te naïef? Miskien. Maar ek verkies dit so. Ek sal eerder die goeie in almal probeer sien en teleurgesteld word as wat ek skepties en alleen deur die lewe moet gaan.

En ‘n ander ding. Sommer terloops. Dit sien ek orals, nie eers net in my vriendskappe nie. Dit beteken nie as jy verlief is en jou lewensmaat ontmoet het, jy nie ander mense in jou lewe nodig het nie. Maar dis iets wat elkeen moet leer op hulle eie tyd. Ek moes maar ook.

Miskien lees niemand dit nie. Ek glo tog dat die vir wie ek dit skryf dit nooit sal lees nie.

Maar as jy dit lees. Dis nou wie ookal. Waardeer die mense wat jy om jou het. Hanteer hulle met respek en liefde, en moet nooit enige iemand vanselfsprekend aanvaar nie.

Advertisements
 

Paasfees, bediening en ’n bietjie meel. April 12, 2009

Filed under: Gemeente/Kerk — Nicole @ 7:03 pm
Tags: , , ,

So dit was my eerste paasfees as predikant gewees. My kollega het my in beheer gelos en op vakansie gaan. Wat altyd lekker is, alhoewel hy nie omgee vir nuwe goed nie, maar die gemeente is meer ontvanklik vir nuwe goed as die jong predikant alleen is.

Eerstens het ek stil geword en net eers opnuut gedink waaroor paasfees gaan, sodat ek kan weet wat om vir my gemeente te doen. Dit het begin by Palmsondag, wat ek maar eers volgende jaar as Palmsondag sal hanteer aangesien my gemeente nie gewoond is aan die kerklike jaar nie. Na dit is dit die Nagmaal Donderdagaand. Maar iets het “missing” gevoel.

Dis asof ons dit net doen omdat almal dit doen. Ek het toe 14 stasies van die kruisweg gekry met hulle tekste. Elkeen uitgedruk en “stasies” in die kerk gemaak. Niks “fancy” nie, maar die hele gevoel van reis was daar, want jy moes van die een na die ander stasie, en sy kers wat brand, beweeg terwyl Taizé musiek in die agtergrond speel. Die hele reis eindig met die labarint in die saal wat ons met meel gegooi het. In die middel van die labarint is ’n kruis en ’n groot kers. By die ingang van die labarint het ek kerse gelos, sonder om te sê waarvoor dit is. Mense het dit op eie inisiatief baie oulik benut.

Van Maandag tot Woensdag het ek die kerk dan vir ’n uur oopgehou en gewag dat die mense kom “voorberei” vir Nagmaal. Omdat dit ’n nuwe ding is het ek nie baie mense verwag nie. Toe daar Maandagaand een persoon opdaag was ek effens teleurgesteld, maar eintlik bly dat daar tog iemand was. Dinsdagaand was daar weer net een persoon en ek was toe baie bly dat dit nie dieselfde persoon as Maandag was nie. So ek was eintlik tevrede. My gebed was maar dat die Here die mense sal stuur wat dit dalk nodig het. Woensdagaand was ek opgewonde toe ’n paartjie opdaag. Want dis mos 100% verbetering 🙂

Maar toe kom nog ’n dame, en nog ’n persoon, en op die ou end het 12 mense opgedaag om die reis as’t ware saam Jesus na die kruis toe te stap en om voor te berei vir die Nagmaal en Paasfees. Aan die einde van die aand het dit vir my gevoel ek kon bars van opgewondenheid oor hierdie twaalf mense. Dis sulke tye wat ek voel ek kan sommer vlieg!

Dit was ’n ervaring om by die geleentheid die mense dop te gehou het. Hulle het onseker en gejaagd in die kerkgebou ingestap en hierdie hele gedoente met twyfel aanskou. Maar as hulle daar uitstap was hulle anders. Asof hulle gevul is met vrede, met geduld en met waardering. Dis asof hulle opnuut besef het waaroor hierdie tyd rêrig gaan en wat Christus vir elkeen van ons kom doen het. Dit was ’n voorreg om drukkies, glimlagte en stywer-as-gewoonlik-handrukke van dankbaarheid te kon kry. Om iets in mense se oë te herken, iets wat my herinner aan God, die Almagtige.

Op die ou end het ek besef dat hierdie is ook ’n ander tipe ervaring vir myself. En dat die Here eintlik besig is om deur hierdie ervaring my iets te leer, van Hom, Sy Kerk, en Sy kinders.

Oor Donderdagaand se Nagmaal was ek baie onseker. Ek het ’n idee gehad van wat ek moes doen, maar nie presies geweet hoe of wat nie. Met blinde vertroue het ek net voortgegaan sonder om te veel te dink, ek’t net gedoen. Ek het 40, maksimum 50, mense verwag. Dis vakansie en langnaweek en ons gemeente daag nie in hordes op vir sulke goed nie. Ons het Matsa uitgepak, op drie borde, toe maak ons dit maar twee, een skinkbord kelkies en dan die beker met wyn. In my toga het ek die mense buite gegroet. Gedink dit sal mense gerusstel omdat ek iets vreemds met die gemeente probeer, ag eintlik was die toga daar net sodat hulle weet ek hou dit binne ons gereformeerde tradisie.  Maar dit het ’n ongelooflike verskil gemaak. Dis asof mense dan besef hoe ernstig hierdie aand is. En omdat ek nog so jonk en onervare is, is dit asof hulle my dadelik ernstig opneem, en besef, ek is ernstig oor wat ek hier doen, ek doen dit met liefde en met trots, in my toga.

Toe almal en elkeen met die hand by die deur gegroet is, en persoonlike kontak gemaak is, het ek die kerk ingestap. My binneste het so warm geword, en ek is gevul met ’n vreugde wat onbeskryflik is. Daar was baie mense! ’n Oom sê vandag vir my daar was amper 190! 190!!!!!! In die vakansies het ons ongeveer 60 mense wat ’n oggenddiens bywoon! My leierdiaken was vinnig op sy voete en het nog kelkies en matsa gaan haal.

Nadat ons sonder orrel die Onse Vader gesing het, het ek Lukas 22 gelees waar Jesus die Nagmaal instel. Daarna het ek nie gepreek nie, maar ek het ’n groot deel van die Nagmaal formulier gelees. Iets wat ook baie oorgesien word omdat dit so lank is en ons mos nie mense wil verveel nie. Maar daar is ’n rede dat dit ons formulier is, dit maak net soveel sin!

Daarna het ek die mense uitgenooi om een-een of in ’n gesin vorentoe te kom om die Nagmaal by die tafel te kom gebruik. As hulle daar klaar is kan hulle ’n gebed, versoek, probleem of enige iets op papier skryf en dit dan na die kers en die kruis in die middel van die labarint toe vat. Dit brand en in ’n bak gooi, en dan weg te stap van dit.

Mense het stil geword. Die eerste gesin het gekom. Toe nog, toe sommer ’n paar mense. Daarna is hulle op labarint toe. En dan huistoe. My hart was gevul met ’n vrede oor dit waarmee ek besig is. Nog nooit was ek meer bewus van die Heilige Gees se teenwoordigheid in ’n kerkgebou soos daardie aand nie.

Sondag, vandag, se diens het ek die kruis met blomme en lappe versier. Hom voor gesit en gepreek oor die awesome boodskap wat die leë graf vir ons bring. Iets wat ek natuurlik nie kon doen as die Heilige Gees nie al die laaste twee weke in my hart gewerk het nie.

Ek’t ’n PowerPoint gewys wat een van die gemeente dogters gemaak het. Haar pa het my gebel en gesê hy dink ek moet kyk daarna. Dit het gegaan oor die kruisiging, en dit het die eksplisiete foto’s ingehad van Passion of the Christ saam hartseer musiek. Maar dit het geëindig met vrolike musiek en foto’s van mense wat lag en lekker kry. Dit was die benig van die diens en ’n goeie manier om net alles saam te vat wat gebeur het die week. Die diens word afgesluit met paaseiers wat in kollekte uitgedeel word.

Mense stap uit en gaan na hulle huise toe en doen wat ookal hulle meer besig is. Die koster het my labarint in ’n oogwink opgevee voor ek nog kon keer, en alles is nou weer skoon.

Ek het kom lê op my bed en gedink. Daar is niks wat ek meer kan doen nie. As predikant en gelowige vertrou ek dat die Gees verder in elkeen se harte sal werk. Nou kan ek maar net die Here loof en prys dat Hy my in hierdie Paastyd gebruik het om iets te doen vir die gemeente, iets wat vir een, twee, twaalf of 190 mense iets kon beteken het.

Dit is so voorreg om net weer opnuut te besef waaroor my werk gaan, my werk wat my roeping is, hierdie bediening waarmee ek besig is en om verryk te kan word deur so ervaring. Dis nie net nog ’n werk vir my nie, dis my hele lewe.

Dis my gebed dat elkeen van my klasmaats ook hierdie voorreg sal geniet. Dat elke predikant weer opnuut sal besef waarmee hulle ook besig is.

Paasfees 2009 was ’n ervaring wat ek nie sommer sal vergeet nie. Sommer so aan die begin van my bediening. Ai, wat ’n verskil ’n nuwe manier van doen, Paasfees en bietjie meel nie kan maak as die Heilige Gees betrokke is nie! 🙂

 

Predikant wees… sover March 2, 2009

Filed under: Gemeente/Kerk — Nicole @ 7:55 pm
Tags: ,

So tydens ons studies het ons darem baie teoretiese goed geleer.

Maar niks en niemand kon my voorberei vir hierdie oorskakeling van student na predikant.

Ek wonder of iemand al ooit daarin gedink het. Dis ’n enorme kopskuif wat gemaak moet word. ‘n Kopskuif wat ek self van student na proponent na predikant moes maak, die arme gemeente moes dit ook doen.  Ja, natuurlik hang dit af van die konteks, hoe lank is jy in die gemeente betrokke, wat is jou pos beskrywing waar is die gemeente, watter tipe persoon is jy ensovoorts. Maar uit mý ervaring skryf en nou.

Ek is ’n jaar in die gemeente waar ek net as ’n student betrokke was. My ervaring as student was dat niemand my té ernstig opgeneem het nie, ook omdat hulle nie geweet het hoe lank ek gaan bly nie. Ek was maar soos ‘n baie leersame skaduweetjie gewees.  Om te leer natuurlik.

Maar nou is ek die predikant, die medeleraar saam ’n ander leraar wat van die begin van die gemeente af daar was. Dit is heel doenbaar glo ek. Maar dis ’n aanpassing. Ek is so oud soos meeste van die gemeente se eie kinders, soms jonger ook. Hulle sien my nogsteeds in die skaduwee van die senior leraar, wat goed is (soms), want ek leer ook nog baie by hom, en kan nie in ’n maand (amper twee) vir die mense beteken wat hy al die laaste 23 jaar vir hulle beteken nie.

Maar na ’n gemeentebou analise het ek nou nogals gedink. Ek voel skuldig omdat dit nie so eksieperfeksie gaan nie. Ek voel skuldig omdat ek die tekortkominge in die gemeente kan raaksien en ek weet waar ek al ’n verskil miskien kan begin maak. Maar hoeveel moes ek al in ’n maand as hulle predikant bereik het? Tydens die analise het ek besef hoeveel hierdie mense van my verwag. Dit was die eerste keer in my hele lewe dat ek die fisiese druk (seker die benoudheid in my binneste) gevoel het, asof iemand bakstene om my hart, gedagtes en menswees pak. Of dit almal se oë was wat op my gerig was of ’n denkbeeldige dak wat op my druk weet ek nie, maar druk het ek gevoel.

Ja, ek het ook drome vir die gemeente, en ja ek wil ook help om dinge om te swaai en saam met hulle ’n pad te stap, maar besef die mense, almal, selfs julle wat die verantwoordelikheid is. ‘n Goeie vriend sê toe hoeka nou die dag, dis moeilik om n groot skip te draai.  Ek dink vinnig terug aan modules, tye, sprekers en professore of iemand nie dalk miskien asseblief tog iets genoem het van hierdie ervaring wat ek gaan he nie? Hoe moet ek dit hanteer? Waar kry ek die moed? Wie help my by die roer??

Ek het mooi probeer dink hoe ek hierdie ervaring kan verduidelik:

Het iemand al vir jou ’n swaar item gegooi? ’n Groot swaar item? Sodat toe jy dit vang, jy ’n tree agteruit moes gee effens balans verloor en jou knie moes buig om te keer dat jy nie omval nie? Wel dis hoe ek voel. En ek bevind myself in “die-vind-my-balans-net-weer” stadium.  Die stadium waar ek net moet evalueer waar ek is, wie ek is en hoekom ek hier is.

En na ’n mini katarsis kom die dinge bymekaar uit. Ek glo dis hoe die Heilige Gees maar in my werk. Deur na ’n klasmaat of twee te kon draai om net weer in die “spieël” te kyk.

En om dan stil te word.

Stil.

Daar waar ek en die Here intiem ontmoet. Daar word dinge net duidelik uiteengesit. Asof die Here die kaste reg pak wat ek in my “balans-vind-stadium” per ongeluk uitgegooi het. Stadig werk ek en Hy om hierdie goed weer reg te kry. Om die teoretiese goed wat ek geleer het weer in te pak, en so sien ek al die spasie wat ek nog oor het, vir al die persoonlike ervaring wat ek net met tyd sal kan leer en bymekaar maak. Ter afsluiting van die mini katarsis lees ek toe weer Jeremia 1,

En ek weet.

Ek is op die regte plek.

Ek is nie alleen nie.

En dit gaan nie oor my nie.

 

Vredesverdrag September 13, 2008

Filed under: gedig — Nicole @ 8:30 am

Die verskoning oor ons simbiotiese verhouding

Het sy stempel in my hart gelos

Ons familiariteit

Het my hart die rotang laat proe

Op die kim van my hart lê die seer

Sal dit ooit verdamp?

Nog nooit het ons gekibbel

Nog nooit was ons onbewimpeld

Want al skyn my hart vakant

het jy ’n monopolie oor dit gehad

terwyl ek wel nog verlang

sal ek my sier

vir die oomblik wat jy besef

ons is.

 

Brokkie niks 1 September 1, 2008

Filed under: Brokkies — Nicole @ 9:16 pm
Tags: , ,

Onverwags was die tyding

Van die bruilof fees

die nooi en die man met ’n aftoon gees

Oral waar hy gaan

Was die spook saam

bruid was tengunste

Van ’n af toon gees

En die bruilof het begin

 

Stokmannetjie July 6, 2008

Filed under: gedig — Nicole @ 5:51 pm

In ’n vervelige klas is jy gebore

In doodeenvoudige lyne

Het jy vorm gekry

My stokmannetjie

Met ’n HB potlood teken ek

Vir jou ’n kop met ’n glimlag

Groot oë met ’n glinster stout

Met my HB potloot teken ek

Vir jou ’n lyfie, met ’n hart

En griffel ek trots in

Met my HB potlood teken ek

Twee arms met mooi hande

En twee bene met voete

Stewig, plat op die aarde

Met met Steadler uitvee

Moes ek uitvee

En byteken

Want ervaring

Mense,familie en vriende

Bring perspektief

Op ’n dood eenvoudige stokmannetjie

Jou kop moes plek maak vir intelek

Jou mond moes oop maak vir sagte woorde

Warm glimlag en eerlikheid

Jou enkelstreep lyf moes pad maak

Vir ’n breë bors wat troos

Vir ’n groter hart met baie geduld en geloof

Jou arms moes langer

Om uit te reik

Te vang en vreugde te ervaar

Jou bene moes ek sterker maak

Vir uithou vermoë, moed

En die pad wat ons saam gaan stap

Met my Bic ink pen

Wens ek

Droom ek

Wonder ek

’n regte egte naam vir jou

My stokman.

 

Joernaal June 10, 2008

Filed under: Uncategorized — Nicole @ 2:40 pm

Verlede week was ons klas op ‘n retreat gewees by die good Shepherd retreat centre. Wat ‘n ongelooflike en geseënde ervaring!!!

Een van die dinge wat ons op die retreat geleer het was om Joernaal te hou.

Dis ongelooflik hoe verligting dit vir my was om te leer joernaal hou. My kop is gewoonlik so moshposh van gedagtes, gevoelens en ervarings. En my dagboek wat ek so af en toe in skryf lyk maar soos ‘n gemors. Dis moeilik om in 80 000 woorde daardie een gebed te gaan soek, of ‘n goeie dag. Maar die joernaal is so oulik uitmekaar gesit. Eenvoudig, maar effektief. Dit moedig my aan om meer te skryf ook. Om te ontdek, en te ontmoet met die Here en myself.

Maar vandat ek terug is, dreig ek al dae om te skryf. Net iets. Maar dis asof die joernaal te heilig is om in te skryf. Miskien omdat ek die effek daarvan beleef het. Miskien omdat ek sien hoe roof onbenullighede my kosbare tyd. Die tyd wat ek aan die joernaal afstaan moet nie goedkoop tyd wees nie.

Ek sal wel weer daarin skryf as ek weer reg is. Hopelik more, of vannaand.