Krabbel

hier krabbel ek sommer gedagtes, drome en dinge

Joernaal June 10, 2008

Filed under: Uncategorized — Nicole @ 2:40 pm

Verlede week was ons klas op ‘n retreat gewees by die good Shepherd retreat centre. Wat ‘n ongelooflike en geseënde ervaring!!!

Een van die dinge wat ons op die retreat geleer het was om Joernaal te hou.

Dis ongelooflik hoe verligting dit vir my was om te leer joernaal hou. My kop is gewoonlik so moshposh van gedagtes, gevoelens en ervarings. En my dagboek wat ek so af en toe in skryf lyk maar soos ‘n gemors. Dis moeilik om in 80 000 woorde daardie een gebed te gaan soek, of ‘n goeie dag. Maar die joernaal is so oulik uitmekaar gesit. Eenvoudig, maar effektief. Dit moedig my aan om meer te skryf ook. Om te ontdek, en te ontmoet met die Here en myself.

Maar vandat ek terug is, dreig ek al dae om te skryf. Net iets. Maar dis asof die joernaal te heilig is om in te skryf. Miskien omdat ek die effek daarvan beleef het. Miskien omdat ek sien hoe roof onbenullighede my kosbare tyd. Die tyd wat ek aan die joernaal afstaan moet nie goedkoop tyd wees nie.

Ek sal wel weer daarin skryf as ek weer reg is. Hopelik more, of vannaand.

 

Heilige Gees in ‘n Kontakweek. March 9, 2008

Filed under: Uncategorized — Nicole @ 5:29 pm
Tags: , , ,

En skielik besef ek hoe skrikwekkend dit is hoe baie mens kan groei in een week. Een week ja, 7 dae. Maandag tot en met die Sondag. Elke liewe een van daardie dae, en in ’n pakkie saam op die ou end, is dit dalk ’n week wat ’n groot verskil in my lewe gaan maak. ’n Week waarin ek iets opnuut gevind het. Sonder dat ek noodwendig daarvoor gesoek.

Hoe snaaks is dit dat soms dink jy, jy verstaan iets, en jy weet hoe dit werk, maar dan kom so week om jou net te laat besef dat dinge werk anders. Beter, ongelooflik. In hierdie week het ek iets van my Here weer geleer. Nog altyd het ek geweet Hy is by my, Hy is teenwoordig ’n my lewe. Maar hierdie week het ek sowaar beleef en dit in my diepste binneste gevoel soos nog nooit tevore nie. Hierdie week het ek die Heilige Gees in my lewe weer gesien. Hierdie hele week het Hy aan my gewerk sodat ek kan kom op die punt waar ke nou is. En nooit sal ek ooit nog ’n dag aanpak sonder om bewus te wees van Sy teenwoordigheid, Sy liefde vir my nie.

Ek was altyd bang om iets te wees wat ek nie is nie. Mens wil so graag iets doen, maar dit werk nie altyd so nie. Die eerste oggend het ek besef ek is nie alleen toe ek wakker word en nog deur die slaap, my oggend gebed bid. Iets wat ek bitter min gedoen het, maar altyd wou, en dit het so natuurlik gekom. En ek glo dit is nie omdat ek wou nie, maar omdat dit God se wil was.

In die week het ek liefde ontdek. Liefde tussen medegelowiges, en ek het die waarde daarvan ontdek. Dit word so maklik ’n gewoonte om net “lief” te hê. En soms weet jy ook nie meer of jy nou rêrig lief is of nie en of jy dit net sê nie. Maar ek kon dit voel, ek het dit ingeasem en ek het geweet, dis op Heilige grond wat ek beweeg, want hier tussen my medegelowiges, is God.

En terwyl ek so besig was met klas en my mense, klasmaats en dinge, was daar min tyd vir preek maak. Maar êrens in my hart het ek kalmte gevind daaroor. Ek het vertrou dat alles sal uitwerk. Soms was ek bietjie gespanne oor die preek wat ek nog nie gemaak het nie, ander kere het ek rustig daaroor gedink en gewonder hoe op aarde ek dit gaan reg sê. Ek het gesukkel om die tema my eie te maak, om iets sinvol daarvan te maak, om iets daarmee te doen. En daar was ’n stadium, in ’n baie insiggewende klas, wat dit my getref het soos ’n yskoue wind. Dis nie myne om my eie te maak nie. Dis nie my preek met my idee nie. En al het ek vroeër gedink ek moet net vertrou, het ek dit geweet, en nog meer, ek het dit waarlik en opreg geglo.

So het dit gekom dat ek to 2h die oggend gesit het en die preek gemaak het wat op my hart gedruk word. Toe ek eers begin was ek nie 100% seker waar dit gaan eindig nie, maar dit het goed geëindig. En vanoggend voor ek die seën uitspreek kon ek nie help om te glimlag nie, want ek het geweet, die Heilige Gees is daar, en dis Hy wat my gelei het om hierdie preek saam te stel.

Vir die eerste keer in ’n lang tyd het gevoel soos die potlood waarmee God sy liefdesbrief vir die wêreld skryf. En van nou af is dit hierdie week wat ek aan sal dink as dinge moeilik gaan. Dis hierdie week wat my sal herinner aan die teenwoordigheid van God in en om my. Dis nie iets wat ek net sal weet omdat ek dit êrens gelees of gehoor het nie. Dis iets wat ek glo, op vertrou en op staatmaak. Want as een mens beteken ek niks. Maar as een mens wat in God glo en Hom 100% met my alles wil dien en liefhê… dan beteken ek baie meer. En daarom moet ek hierdie week met iemand deel.

Amen.

 

Eerstes February 18, 2008

Filed under: Uncategorized — Nicole @ 2:48 pm

Die lewe is vol eerstess. Jou eerste skooldag, jou eerste kar, jou eerste soen, jou eerste woorde. Wel hierdie is my eerste blog met my eerste (en splinternuwe) 3G modempie.