Krabbel

hier krabbel ek sommer gedagtes, drome en dinge

Paasfees, bediening en ’n bietjie meel. April 12, 2009

Filed under: Gemeente/Kerk — Nicole @ 7:03 pm
Tags: , , ,

So dit was my eerste paasfees as predikant gewees. My kollega het my in beheer gelos en op vakansie gaan. Wat altyd lekker is, alhoewel hy nie omgee vir nuwe goed nie, maar die gemeente is meer ontvanklik vir nuwe goed as die jong predikant alleen is.

Eerstens het ek stil geword en net eers opnuut gedink waaroor paasfees gaan, sodat ek kan weet wat om vir my gemeente te doen. Dit het begin by Palmsondag, wat ek maar eers volgende jaar as Palmsondag sal hanteer aangesien my gemeente nie gewoond is aan die kerklike jaar nie. Na dit is dit die Nagmaal Donderdagaand. Maar iets het “missing” gevoel.

Dis asof ons dit net doen omdat almal dit doen. Ek het toe 14 stasies van die kruisweg gekry met hulle tekste. Elkeen uitgedruk en “stasies” in die kerk gemaak. Niks “fancy” nie, maar die hele gevoel van reis was daar, want jy moes van die een na die ander stasie, en sy kers wat brand, beweeg terwyl Taizé musiek in die agtergrond speel. Die hele reis eindig met die labarint in die saal wat ons met meel gegooi het. In die middel van die labarint is ’n kruis en ’n groot kers. By die ingang van die labarint het ek kerse gelos, sonder om te sê waarvoor dit is. Mense het dit op eie inisiatief baie oulik benut.

Van Maandag tot Woensdag het ek die kerk dan vir ’n uur oopgehou en gewag dat die mense kom “voorberei” vir Nagmaal. Omdat dit ’n nuwe ding is het ek nie baie mense verwag nie. Toe daar Maandagaand een persoon opdaag was ek effens teleurgesteld, maar eintlik bly dat daar tog iemand was. Dinsdagaand was daar weer net een persoon en ek was toe baie bly dat dit nie dieselfde persoon as Maandag was nie. So ek was eintlik tevrede. My gebed was maar dat die Here die mense sal stuur wat dit dalk nodig het. Woensdagaand was ek opgewonde toe ’n paartjie opdaag. Want dis mos 100% verbetering 🙂

Maar toe kom nog ’n dame, en nog ’n persoon, en op die ou end het 12 mense opgedaag om die reis as’t ware saam Jesus na die kruis toe te stap en om voor te berei vir die Nagmaal en Paasfees. Aan die einde van die aand het dit vir my gevoel ek kon bars van opgewondenheid oor hierdie twaalf mense. Dis sulke tye wat ek voel ek kan sommer vlieg!

Dit was ’n ervaring om by die geleentheid die mense dop te gehou het. Hulle het onseker en gejaagd in die kerkgebou ingestap en hierdie hele gedoente met twyfel aanskou. Maar as hulle daar uitstap was hulle anders. Asof hulle gevul is met vrede, met geduld en met waardering. Dis asof hulle opnuut besef het waaroor hierdie tyd rêrig gaan en wat Christus vir elkeen van ons kom doen het. Dit was ’n voorreg om drukkies, glimlagte en stywer-as-gewoonlik-handrukke van dankbaarheid te kon kry. Om iets in mense se oë te herken, iets wat my herinner aan God, die Almagtige.

Op die ou end het ek besef dat hierdie is ook ’n ander tipe ervaring vir myself. En dat die Here eintlik besig is om deur hierdie ervaring my iets te leer, van Hom, Sy Kerk, en Sy kinders.

Oor Donderdagaand se Nagmaal was ek baie onseker. Ek het ’n idee gehad van wat ek moes doen, maar nie presies geweet hoe of wat nie. Met blinde vertroue het ek net voortgegaan sonder om te veel te dink, ek’t net gedoen. Ek het 40, maksimum 50, mense verwag. Dis vakansie en langnaweek en ons gemeente daag nie in hordes op vir sulke goed nie. Ons het Matsa uitgepak, op drie borde, toe maak ons dit maar twee, een skinkbord kelkies en dan die beker met wyn. In my toga het ek die mense buite gegroet. Gedink dit sal mense gerusstel omdat ek iets vreemds met die gemeente probeer, ag eintlik was die toga daar net sodat hulle weet ek hou dit binne ons gereformeerde tradisie.  Maar dit het ’n ongelooflike verskil gemaak. Dis asof mense dan besef hoe ernstig hierdie aand is. En omdat ek nog so jonk en onervare is, is dit asof hulle my dadelik ernstig opneem, en besef, ek is ernstig oor wat ek hier doen, ek doen dit met liefde en met trots, in my toga.

Toe almal en elkeen met die hand by die deur gegroet is, en persoonlike kontak gemaak is, het ek die kerk ingestap. My binneste het so warm geword, en ek is gevul met ’n vreugde wat onbeskryflik is. Daar was baie mense! ’n Oom sê vandag vir my daar was amper 190! 190!!!!!! In die vakansies het ons ongeveer 60 mense wat ’n oggenddiens bywoon! My leierdiaken was vinnig op sy voete en het nog kelkies en matsa gaan haal.

Nadat ons sonder orrel die Onse Vader gesing het, het ek Lukas 22 gelees waar Jesus die Nagmaal instel. Daarna het ek nie gepreek nie, maar ek het ’n groot deel van die Nagmaal formulier gelees. Iets wat ook baie oorgesien word omdat dit so lank is en ons mos nie mense wil verveel nie. Maar daar is ’n rede dat dit ons formulier is, dit maak net soveel sin!

Daarna het ek die mense uitgenooi om een-een of in ’n gesin vorentoe te kom om die Nagmaal by die tafel te kom gebruik. As hulle daar klaar is kan hulle ’n gebed, versoek, probleem of enige iets op papier skryf en dit dan na die kers en die kruis in die middel van die labarint toe vat. Dit brand en in ’n bak gooi, en dan weg te stap van dit.

Mense het stil geword. Die eerste gesin het gekom. Toe nog, toe sommer ’n paar mense. Daarna is hulle op labarint toe. En dan huistoe. My hart was gevul met ’n vrede oor dit waarmee ek besig is. Nog nooit was ek meer bewus van die Heilige Gees se teenwoordigheid in ’n kerkgebou soos daardie aand nie.

Sondag, vandag, se diens het ek die kruis met blomme en lappe versier. Hom voor gesit en gepreek oor die awesome boodskap wat die leë graf vir ons bring. Iets wat ek natuurlik nie kon doen as die Heilige Gees nie al die laaste twee weke in my hart gewerk het nie.

Ek’t ’n PowerPoint gewys wat een van die gemeente dogters gemaak het. Haar pa het my gebel en gesê hy dink ek moet kyk daarna. Dit het gegaan oor die kruisiging, en dit het die eksplisiete foto’s ingehad van Passion of the Christ saam hartseer musiek. Maar dit het geëindig met vrolike musiek en foto’s van mense wat lag en lekker kry. Dit was die benig van die diens en ’n goeie manier om net alles saam te vat wat gebeur het die week. Die diens word afgesluit met paaseiers wat in kollekte uitgedeel word.

Mense stap uit en gaan na hulle huise toe en doen wat ookal hulle meer besig is. Die koster het my labarint in ’n oogwink opgevee voor ek nog kon keer, en alles is nou weer skoon.

Ek het kom lê op my bed en gedink. Daar is niks wat ek meer kan doen nie. As predikant en gelowige vertrou ek dat die Gees verder in elkeen se harte sal werk. Nou kan ek maar net die Here loof en prys dat Hy my in hierdie Paastyd gebruik het om iets te doen vir die gemeente, iets wat vir een, twee, twaalf of 190 mense iets kon beteken het.

Dit is so voorreg om net weer opnuut te besef waaroor my werk gaan, my werk wat my roeping is, hierdie bediening waarmee ek besig is en om verryk te kan word deur so ervaring. Dis nie net nog ’n werk vir my nie, dis my hele lewe.

Dis my gebed dat elkeen van my klasmaats ook hierdie voorreg sal geniet. Dat elke predikant weer opnuut sal besef waarmee hulle ook besig is.

Paasfees 2009 was ’n ervaring wat ek nie sommer sal vergeet nie. Sommer so aan die begin van my bediening. Ai, wat ’n verskil ’n nuwe manier van doen, Paasfees en bietjie meel nie kan maak as die Heilige Gees betrokke is nie! 🙂

 

Post-proefpreek May 25, 2008

Filed under: my lewe — Nicole @ 5:47 pm
Tags: , ,

Gits, wat ‘n dag!

So vanoggend was my proefpreek gewees. En om eerlik te wees was dit nie so erg soos ek gdink het dit kan dalk wees nie.

Eintlik, was dit n voorreg om Proffies te he wat hulle ervaring, opinie en wysheid met my kon kom deel hier in V-town.

Toe ek vanoggend uit my woonstelletjie stap was dit bewolk gewees. Bewolktheid dink ek is my geluk. Want die eerste keer toe ek in Suikerbos preek het dit ook gereën, so hard dat die mense my skaars kon hoor. En toe ons in die kerk sit vanoggend het dit ook op die ou end begin reën. Hoe heerlik, die reën wat buite val in die middel van Mei! Amper asof God wou sê; Nicole, my kind, Ek is hier. O en ek was tog bewus van Sy teenwoordigheid vandag. Hy het my opgewonder gemaak vir vandag, Selfverseker, tog nederig. Dis tog Sy Woord wat ek kom verkondig. Sy Woord wie se goue drade wat ek vir die gemeente moet uithaal, soos Prof Gert sou sê. Daar was spanningvolle oomblikke, wat ek bietjie deurmekaar was en onkant gevang is. Kyk, tyd wag vir niemand nie, nie eers vir my preek nie. Na ‘n halfuur het ek Amen gesê na mypreek.

Die kritiek was goed. Dinge wat ek reeds weet, en dinge wat ek weet ek moet dalk meer aan werk. dinge wat ek vir die eerste keer kliek, en dinge wat ek nooit geweet het. Dis mos kritiek. Kritiek wat ek so baie waardeer. Veral as dit van jou Prof kom wat jou van jou eerstejaar af ken. En die doktor wat altyd daar was met groot besluit en wie se deur altyd oop is vir my. Miskien is dit hoekom hierdie kritiek vir my waardevol is. Ek sal my nie verknog aan die idee van hoe ek dit beter kon doen nie. Maar met vrede weet, ek het die beste gedoen wat ek nou kan. My evalueerders los my met hoop, vrede en vreugde wat my opgewonde maak oor my toekoms.  Hoe sê mens dankie vir dit?

Dit was lekker om my oulike gesinnetjie by die Kerk te he.   Sodat  hulle die mense kan ontmoet vir wie ek so lief raak. Mense vir wie ek wil preek. Mense by wie ek wil wees. Wat ek weet gee vir my om, vir my mooi boodskappe stuur en drukkies gee. Mense saam wie ek en my gesin ook tyd kon deurbring tydens ete. Wat ‘n voorreg is dit nie, om in so situasie te wees. In ‘n gemeente wat my met oop harte aanvaar. Dis dalk ook waarskynlik dat my ouers met vrede huistoe is, en weet ek is op goeie plek. Fisies en geestelik.

Na vandag kan ek net weereens getuig van die Heilige Gees se teenwoordigheid in my lewe, Hy verbaas my gedurig.  Sonder Hom sou my lewe droog en eensaam gewees het. MY gebed is nou dat ek hierdie Gees in my met soveel as moontlik mense sal deel. Nie noodwendig met woorde nie, maar deur wie ek is. God se kind. Dis my gebed vir almal vannaand.

 

Heilige Gees in ‘n Kontakweek. March 9, 2008

Filed under: Uncategorized — Nicole @ 5:29 pm
Tags: , , ,

En skielik besef ek hoe skrikwekkend dit is hoe baie mens kan groei in een week. Een week ja, 7 dae. Maandag tot en met die Sondag. Elke liewe een van daardie dae, en in ’n pakkie saam op die ou end, is dit dalk ’n week wat ’n groot verskil in my lewe gaan maak. ’n Week waarin ek iets opnuut gevind het. Sonder dat ek noodwendig daarvoor gesoek.

Hoe snaaks is dit dat soms dink jy, jy verstaan iets, en jy weet hoe dit werk, maar dan kom so week om jou net te laat besef dat dinge werk anders. Beter, ongelooflik. In hierdie week het ek iets van my Here weer geleer. Nog altyd het ek geweet Hy is by my, Hy is teenwoordig ’n my lewe. Maar hierdie week het ek sowaar beleef en dit in my diepste binneste gevoel soos nog nooit tevore nie. Hierdie week het ek die Heilige Gees in my lewe weer gesien. Hierdie hele week het Hy aan my gewerk sodat ek kan kom op die punt waar ke nou is. En nooit sal ek ooit nog ’n dag aanpak sonder om bewus te wees van Sy teenwoordigheid, Sy liefde vir my nie.

Ek was altyd bang om iets te wees wat ek nie is nie. Mens wil so graag iets doen, maar dit werk nie altyd so nie. Die eerste oggend het ek besef ek is nie alleen toe ek wakker word en nog deur die slaap, my oggend gebed bid. Iets wat ek bitter min gedoen het, maar altyd wou, en dit het so natuurlik gekom. En ek glo dit is nie omdat ek wou nie, maar omdat dit God se wil was.

In die week het ek liefde ontdek. Liefde tussen medegelowiges, en ek het die waarde daarvan ontdek. Dit word so maklik ’n gewoonte om net “lief” te hê. En soms weet jy ook nie meer of jy nou rêrig lief is of nie en of jy dit net sê nie. Maar ek kon dit voel, ek het dit ingeasem en ek het geweet, dis op Heilige grond wat ek beweeg, want hier tussen my medegelowiges, is God.

En terwyl ek so besig was met klas en my mense, klasmaats en dinge, was daar min tyd vir preek maak. Maar êrens in my hart het ek kalmte gevind daaroor. Ek het vertrou dat alles sal uitwerk. Soms was ek bietjie gespanne oor die preek wat ek nog nie gemaak het nie, ander kere het ek rustig daaroor gedink en gewonder hoe op aarde ek dit gaan reg sê. Ek het gesukkel om die tema my eie te maak, om iets sinvol daarvan te maak, om iets daarmee te doen. En daar was ’n stadium, in ’n baie insiggewende klas, wat dit my getref het soos ’n yskoue wind. Dis nie myne om my eie te maak nie. Dis nie my preek met my idee nie. En al het ek vroeër gedink ek moet net vertrou, het ek dit geweet, en nog meer, ek het dit waarlik en opreg geglo.

So het dit gekom dat ek to 2h die oggend gesit het en die preek gemaak het wat op my hart gedruk word. Toe ek eers begin was ek nie 100% seker waar dit gaan eindig nie, maar dit het goed geëindig. En vanoggend voor ek die seën uitspreek kon ek nie help om te glimlag nie, want ek het geweet, die Heilige Gees is daar, en dis Hy wat my gelei het om hierdie preek saam te stel.

Vir die eerste keer in ’n lang tyd het gevoel soos die potlood waarmee God sy liefdesbrief vir die wêreld skryf. En van nou af is dit hierdie week wat ek aan sal dink as dinge moeilik gaan. Dis hierdie week wat my sal herinner aan die teenwoordigheid van God in en om my. Dis nie iets wat ek net sal weet omdat ek dit êrens gelees of gehoor het nie. Dis iets wat ek glo, op vertrou en op staatmaak. Want as een mens beteken ek niks. Maar as een mens wat in God glo en Hom 100% met my alles wil dien en liefhê… dan beteken ek baie meer. En daarom moet ek hierdie week met iemand deel.

Amen.